Ék... in die Bediening?!

Jy kom dalk al 'n lang pad saam met ons: en nou ontdek jy dat die Here jóú geskep én gered én geroep het, omdat Hy 'n baie besondere plan met jóú lewe het. En dis nie sommer 'n alledaagse agenda nie... dis 'n unieke bediening saam met Sy Span wat 'n impak op mense se lewens kan hê... vir die eindelose Ewigheid!!!

Daarby is jóú funksie en rol wat jy het om te speel, só besonders dat niemand anders dit eintlik kan doen nie! So, die Span steun op jóú... en hou hul asems in spanning op om te sien waar jy inpas... en hoeveel groter die Span se impak kan wees as jy ook jóú posisie begin inneem.

 

Maar wat kan ék doen?

Ontspan. Die Here weet klaar! En die avontuur lê nou hierin om dit net te ontdek. Hierdie ontdekking is regtig 'n wonderlike, bevrydende ervaring... want jy ontdek hoedat ervaringe uit jou verlede, jou unieke persoonlikheid, jou passies en talente deur die Heilige Gees geheilig en "geaktiveer" word. Saam met die Gawes waarmee Hy jou toerus, word elk van jou unieke eienskappe vervleg tot 'n vaardigheid met bonatuurlike potensiaal in die hand van die Here.  

 

Maar sê nou net...?

"...Ek is dan nie opgelei nie... en nog nie heeltemal volmaak nie... en ook eintlik nie so goed met... en sê nou net...?"

Al die verskonings wat in jou gedagtes opkom mag heeltemal geldig wees. Die Goeie Nuus is egter: ten spyte van al jou tekortkominge wil die Here jóú rêgtig gebruik!!! Want jy's kosbaar vir Hom - en boonop laat Hy alles in jou lewe meewerk sodat jy 'n baie besondere funksie in Sy Liggaam kan vervul. Hy kyk immers nie na jou vermoëns en vaardighede nie; Hy kyk na jou beskikbaarheid...

 

Steeds nie oortuig nie?

Dink ’n bietjie hieroor na: Eintlik kon die Here nie een van hierdie mense gebruik het nie, want: Abraham was te oud, Jakob was agteraf, Lea was te lelik, Josef was mishandel, Moses het gehakkel, Gideon was arm en bang, Simson was afhanklik, Ragab was immoreel, Dawid het ’n buite-egtelike verhouding gehad (en allerhande ander familie-probleme!) Elia het selfmoord-neigings gehad, Jeremia het met depressie gesukkel, Jona was traag, Naomi was ’n weduwee, Johannes die doper was eksentriek, Petrus was uiters impulsief en opvlieënd, Marta was ’n perfeksionis, die Samaritaanse vrou het ’n klomp mislukte huwelike gehad, Saggeus was uiters ongewild, Tomas het gesukkel om te glo, Paulus was sieklik, en Timoteus was teruggetrokke... en tog het God elkeen van hulle op ’n baie besondere manier gebruik. Hy wil jou ook gebruik!!!

Hou nou maar op verskonings maak, vind jou plek, begin dien, en kyk watter buitengewone dinge ’n Almagtige God deur ’n gewone lewe soos jóúne kan doen!!!

 

Hoe vind ek my Plek?

Die Sub-Menu's op die linkerkant gee jou 'n idee van ons vyf areas met vyf Bediening-Spanne. Elke Span bestaan uit 'n hele aantal Bedienings-groepe, elk met 'n unieke taak en funksie in die funksionering van ons Gemeente. Gooi jou oog daaroor: sommige gaan jou laat frons, ander kan dalk 'n oorweging wees... en dan is daar die opsies wat jou tone laat omkrul! Kliek in die blokkie waar daardie bediening gelys is, vul 'n paar besonderhede in, druk "Submit" en siedaar... jy's oppad om 'n bediening nog groter spoed te gee - en eendag in die Hemel jou beloning te ontvang!

As jy steeds nie seker is nie, registreer vir die volgende aanbieding van ons SHAPE Analise en kom ontdek jouself! (Dit help ook sommer dat jy jouself beter verstaan!) Vir meer info oor die SHAPE Analise, kontak ons kantore. Sodra 'n datum beskikbaar is, publikseer ons dit hier.

 

En, voor jy verder lees: droom vir 'n oomblik watter postiewe bydrae hierdie Gemeente in mense se lewens - en in ons hele gemeenskap kan maak - as ieder en elk sy/haar unieke bediening kom aanwend. Want eers dán kom elkeen tot sy reg, en funksioneer Jesus se Liggaam soos wat dit Sy begeerte is.